The calling of witnesses viva voce during the extradition procedure: is it a legal requirement?

Authors: JJ Du Toit and Marko Svicevic

ISSN: 1996-2207
Affiliations: Retired Deputy Director of Public Prosecutions, Office of the Director of Public Prosecutions, Johannesburg; Lecturer, Centre for International Humanitarian and Operational Law, Faculty of Law, Palacký University, Czech Republic
Source: Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Issue 1, 2022, p. 50-75
https://doi.org/10.47348/TSAR/2022/i1a3

Abstract

Die ondervraging en kruisondervraging van getuies, viva voce, in n uitleweringsaansoek bly n onderwerp wat nie noodwendig baie aandag geniet in die regspraak nie. Is dit regtens noodsaaklik dat getuies inderdaad viva voce geroep moet word om te getuig in n uitleweringsaansoek? Moet n persoon wat voor die hof verskyn in n uitleweringsaansoek toegelaat word om getuies te roep om die getuienis wat die staat aangebied het, viva voce te weerlê vir die uiteindelike beoordeling deur die voorsittende beampte en die minister van justisie en korrektiewe dienste? In hierdie artikel bespreek die outeurs die Suid-Afrikaanse en sommige buitelandse regsposisies en wys op die relevante en soms uiteenlopende regsgesag op dié punt. Hulle werp verder lig op die omstandighede waaronder viva voce-getuienis aangebied behoort te word in n uitleweringsaansoek. In besonder word die aard van uitleweringsaansoeke in ag geneem. Sodanige uitleweringsondersoeke is sui generis van aard en gevolglik verskil dit van die prosedure wat gevolg word in kriminele verhore. In die eerste deel van die artikel ondersoek die outeurs in detail hoe uitleweringsondersoeke gewoonlik onder die vaandel van die Wet op Uitlewering 67 van 1962 gehou word. Daarna ondersoek hulle die regspraak om vas te stel hoe die Suid-Afrikaanse howe oor jare die bepalings van die Uitleweringswet geïnterpreteer het. In die lig daarvan word vervolgens ondersoek hoe verskeie ander jurisdiksies hul eie prosedures vasgestel het ten opsigte van die roep van getuies om viva voce te getuig. Die volgende jurisdiksies word ondersoek: Malawi, die Bahamas, die Verenigde State van Amerika, die Verenigde Koninkryk en Kanada. Na evaluering van die regspraak van Suid-Afrikaanse howe en die howe van ander lande, word verskeie slotopmerkings gemaak wat in ag geneem behoort te word voordat viva voce-getuienis tydens n uitleweringsaansoek in Suid-Afrika aangebied behoort te word. Hierdie oorwegings sluit onder andere in dat die sui generis aard van uitleweringsverrigtinge nooit uit die oog verloor behoort te word nie en dat beide partye tot die aansoek die geleentheid gebied behoort te word om getuienis aan te bied, insluitend viva voce-getuienis. Die oogmerk van die outeurs is om vir die leser n gebalanseerde oorsig van die regspraak te voorsien wat oorweeg kan word wanneer besluit moet word om viva voce getuienis aan te bied tydens n uitleweringsaansoek al dan nie. Die outeurs beveel ten slotte aan dat die huidige Uitleweringswet gewysig behoort te word om meer duidelikheid te verskaf hoe uitleweringsaansoeke in die praktyk behoort plaas te vind veral weens die feit dat voorlopige ondersoeke, wat tot n mate die normale prosedure in die verlede was, al vir n geruime tyd in die verband in onbruik verval het.